Monte Rosa verseker uitstekende bejaardesorg terwyl geboue vernuwe

Die hoeksteen van die Monte Rosa Tehuis vir bejaardes se kompleks in Tuine, Kaapstad dra twee eenvoudige woorde: Jehovah Jireh. God sal voorsien. Almal wat al met die trappe op na die dubbelvolume voorportaal van die gebou gestap het, ken die inskripsie.

Die woorde is netjies in die sandsteen ingewerk soos ’n boodskap uit ’n ander eeu.

Nou, in 2025, word hierdie twee woorde onverwags weer die sleutel tot ’n nuwe hoofstuk in die lewe van die tweede oudste tuiste vir bejaardes in Suid-Afrika.

Die tehuis se oorsprong strek terug tot die laat 1880’s toe die buurt in Kaapstad nog splinternuut was en die stad teen die hange van Tafelberg begin uitbrei het. Toe was die Rogelim-gedeelte van die ouetehuis genoem Het Huis voor Ouden en Hulpbehoewen Mannen te Kaapstad.

Die besluit om so ‘n tehuis te begin is geneem 12 jaar na die oprigting en vestiging van die eerste Dorkashuis in 1894 waar behoeftige dames van Protestantse kerkverband behuising kon kry.

Rogelim verwys na ‘n skrifgedeelte in 2 Samuel 19: 31 tot 37 waar die woorde gebruik word as die benaming vir ‘n veilige hawe vir diegene wat te voet reis.

Die Rogelim-gebou is gebou op grond in Faurestraat wat deur ‘n anonieme skenker aan die kerk gegee is. Die oprigtingskoste was 9 250 pond en is deur die bou-aannemer J. Jenkinson opgerig. Die inwyding was op 9 Junie 1896.

Die erf en gebou langs die pastorie van die Grootte Kerk, bekend as die Monte Rosa, is in Julie 1896 bygekoop vir 2 725 pond en eers as private hospitaal ingerig vir diegene met geringer ongesteldhede. Vroue het ook hul intrek geneem in 1899 in die Victoriaanse gebou se tweede verdieping as ‘n noodmaatreël toe hul eie gebou in Hoopstraat aan die bou was,  maar streng skeiding ten opsigte van behuising het tussen manlike en vroulike inwoners vir dekades geheers.

Mettertyd is die hospitaal in 1974 gesluit en is die twee instellings as Rogelim-Monte Rosa as gemengde tuiste vir bejaardes bedryf.

‘n Derde gebou, verbind aan die hospitaal, die verpleegsterstehuis, Huis Belofte, was deel van die geintegreerde kompleks.

Min kon die eerste inwoners dink dat die statige gebou met sy balkonne en versierde dak- en balkonrelings meer as ’n eeu lank ’n tuiste vir bajaardes sou bly.

Die ligging alleen vertel ’n verhaal van sy eie: met die wêreldberoemde Mount Nelson-hotel aan die een kant, die Labia-bioskoopteater naby en Kloofstraat se stroom van toeriste, woonstelbewoners en werknemers van talle restaurante ’n klipgooi ver, is die grasieuse geboue ‘n landmerk tussen alles wat kosmopolities in Kaapstad met tyd geword het.

Pieter Smit, bestuurder van Monte Rosa, sê die ligging bly een van hul grootste bates.

Smit verduidelik dat hierdie ligging nie net ’n geskiedkundige toevalligheid is nie, maar deel is van die bejaardetuiste se roepingsverhaal.

“Ons lê in die hartjie van Kaapstad,” sê hy. “Verskeie van ons kamers het uitsigte op Tafelberg, Leeukop en Seinheuwel. Die Kompanjiestuin, SPAR, Checkers, die planetarium en die museums is binne loopafstand. Daar is MyCiTi-haltes reg voor ons deur. Families kan sommer in hotelle of gastehuise om die draai bly as hulle kom kuier.”

Die geskiedenis van die geboue, ligging en terrein is indrukwekkend. Die geboue het egter die afgelope paar dekades swaar aan hul ouderdomslas begin dra.

Nadat instandhouding jare lank nie tred kon hou nie, het die veroudering sigbaar geraak.

Die staat se bydraes vir bejaardes se sorg het al hoe minder begin word en die NG Kerk se barmhartigheidsfondse, waaruit die tehuis vantevore groot steun ontvang het, het oor die jare begin opdroog.

 Uiteindelik was die instelling gedwing om te erken dat voortbestaan in gevaar is. Die getal inwoners het gedaal. Die fooistruktuur, gebou op die beginsel dat sorg bekostigbaar moet wees, kon eenvoudig nie meer die voortbestaan daarvan waarborg nie.

Dit is in hierdie konteks dat die vernuwing van Monte Rosa, waarvan die eerste fase in 2025 die lig begin sien het, só besonders is en as’t ware ’n geleentheid is om ’n geskiedkundige tehuis vir ’n nuwe generasie bruikbaar te maak sonder om sy karakter te verloor.

Dit is juis hier waar die hoeksteen se woorde amper profeties voel.

Smit vertel dat hulle lankal besef het die mark vir bejaardebehuising vereis deesdae  kamers met privaat badkamers.

Die oorspronklike ontwerp, tipies van die laat 19de eeu, het klein enkelkamers en gedeelde geriewe voorsien. Vir bewoning in die 21ste eeu in ‘n gewilde en gevestigde buurt van Kaapstad, is dit net nie meer genoeg nie.

“Ons vul ’n gaping in die mark,” sê hy, “maar veel meer is nodig as om net ‘n gaping te vul om volhoubaar sorg aan almal te kan voorsien.”

Die tehuis bied steeds drie etes per dag, versorging en samesyn. Maar om dit volhoubaar te hou, moet die gebou se waarde ontsluit word

Die opgeknapte kamers, waarvan elf binnekort voltooi sal word en nog elf in die volgende fase volg, word soos klein woonstel-suites ingerig. Die vertrekke is lig, ruim, met en suite-badkamers en uitsigte op die tuin.

Dit verhuring teen hoër tariewe as die tradisionele kamers, en die inkomste moet nie net die verblyfkostes dra nie, maar help om die res van die gebou te subsidieer. Hier word ’n model getoets wat moontlik elders herhaal kan word in die bejaardebehuising wat vir die NG Kerk deur sy deernisbediening, Badisa, bestuur word.

Selfs terwyl die vernuwing fokus op die toekoms, word die historiese kern van die gebou met groot versigtigheid hanteer.

Heritage Western Cape en die Stad se erfenisafdeling moet elke verandering goedkeur. Die Rogelim-kompleks het ’n 3A-gradering en Monte Rosa self ’n 3B-gradering in terme van bewaring.

Dit beteken dat die buitemure feitlik onaangeraak moet bly, dat tekeninge van vernuwings streng beoordeel word en dat slegs interne strukturele aanpassings moontlik is. Dit verg tegniese kundigheid en baie vindingrykheid van die argitekte, ingenieurs en projekbestuurders.

Vir Smit is die balans tussen oud en nuut belangrik. Hy sê hulle wil die gebou se outentieke karakter en stemming bewaar.

“Die hoofgebou is pragtige Victoriaanse argitektuur,” sê hy. “Ons het ‘n stoep en balkon wat nog die oorspronklike vorm behou, en die twee stelle trappe binne is deel van die geskiedenis van die Kaap voor die aanbreek van die 20ste eeu. Dit is ’n groot verantwoordelikheid om dit te beskerm.”

Smit glo Monte Rosa moet ’n tuiste wees, nie net ’n woonplek nie.

Hy vertel dat hy gereeld vir families van inwoners en toekomstige bewoners sê: die inwoners moet die vryheid hê om soos in hul eie huis te leef.

Hy hou daarvan om deur die gange te stap en groepies te sien wat tee drink, koerante deel, en saam op die stoep sit. Dit is vir hom die bewys dat die gebou is veel meer as net ‘n behuisingstruktuur.

En so kry die woorde Jehovah Jireh nuwe betekenis meer as ‘n eeu later. Nie as ’n troosspreuk op ‘n steen by die ingang nie, maar as ’n werklikheid waarin ’n geskiedkundige gebou, ’n stadsgemeenskap, ’n diensorganisasie en ’n geduldige bestuurder en bestuurskomitee saam ontdek dat voorsiening ook lê in vasberadenheid om ’n juweel uit die verlede te red en nuwe lewe daaraan met respek en agting te gee.