Die geskiedenis van die Monte Rosa-kompleks in die hart van Kaapstad, is ’n verhaal van meer as ’n eeu se sorg, liefde, vernuwing en die voortdurende rol van gemeenskappe en kerkgemeenskappe wat nie hul kwesbares versaak nie.
Wat in die laat negentiende eeu as ’n funksionele versorgingsgebou vir ouer mans ontstaan het uit die behoefte van kerkleiers om armes te versorg, sou uiteindelik lei tot die tweede oudste operasionele tehuis vir bejaardes in Suid-Afrika.
Dit is merkwaardig dat die oorspronklike hoeksteen met die woorde Jehovah Jireh steeds dieselfde boodskap dra wat die geskiedenis van die plek gevorm het: God sal voorsien.
Die feit dat die gebou sy oorspronklike roeping behou het, ondanks tye en eras van finansiële nood, is deel van die rede waarom Monte Rosa Tehuis vir Bejardes se storie so uniek is.
Die gebou self is ’n Victoriaanse struktuur uit 1885, geleë aan Faurestraat in Tuine, ’n area wat destyds nog in die Grootte Kerk se bedieningsgebied ingesluit was.
Teen 1895 is die gebou in gebruik geneem as Rogelim, ‘n tehuis aanvanklik uitsluitlik vir bejaarde mans.
Teen 1899 het die tehuis noodgedwonge ook vroue begin akkommodeer toe vroue daar tuisgegaan het tydens die oprigting van die Old Ladies Home in Hoopstraat.
Die erf en gebou langs die pastorie van die Grootte Kerk, bekend as die Monte Rosa, is in Julie 1896 bygekoop vir 2 725 pond en eers as private hospitaal ingerig vir diegene met geringer ongesteldhede.
Mettertyd is die hospitaal in 1974 gesluit en is die twee instellings sowel as die eertydse verpleegsterskoshuis as Monte Rosa Tehuis vir Bejaardes as gemengde tuiste vir bejaardes bedryf.
Die strukture is met verloop van tyd aan mekaar verbind. Dit sou uiteindelik ’n omvattende tehuis word wat langer as ’n eeu inwoners se lewens beïnvloed het.
Die tehuis het deur die jare sterk op sy oorspronklike ontwerp gesteun. Die kamers was klein en eenvoudig, met gedeelde badkamers; die balke, trappe en stoepe het die styl weerspieël van die Kaap se Victoriaanse bou-era.
Met sodanige ouer gebou was aanpassings dikwels moeilik, maar nie onmoontlik nie.
Pieter Smit, bestuurder, verduidelik hoe die tradisionele uitleg steeds bepaal hoe modernisering moet gebeur.
Hy vertel: “Wanneer ons planne vir verandering indien, moet ons aan streng voorskrifte voldoen sodat die historiese status nie verander word nie.”
Hy merk verder op dat die geboue se gradering beteken dat hulle onder streng erfeniswetgewing val, en dat enige strukturele veranderings eers deur die betrokke owerhede goedgekeur moet word.
Gedurende talle dekades het die tehuis sy rol as bekostigbare, sorggedrewe tehuis nagekom, onder die vaandel van die NG Kerk se barmhartigheidsdiens.
Met die verloop van tyd is die beheerstruktuur geformaliseer, en die kerk se deernisdiens, Badisa, sou teen 2003 uiteindelik die moederorganisasie word wat die tehuis administratief en operasioneel ondersteun.
Die geboue het egter nie saam met die stad verander nie. Kaapstad daarondom het al hoe meer welvarend geword en die omgewing opsigself het ‘n voorloper in stadsvernuwing geword.
Nuwe restaurante, woonstelle, hotelle en toerisme het die omgewing omvorm.
En tog het die tehuis en sy geboue staande gebly maar sonder toegang tot voldoende befondsing vir instandhouding en vernuwing.
Juis daarom het potensiële inwoners en hul families ander, meer moderne opsies begin verkies.
“Voornemende kliënte sou kom kyk en dan voldoen die tehuis nie aan hulle behoeftes nie,” sê hy.
Die gedeelde badkamers was een van die probleme wat uitgewys is en het veral nie aan die behoeftes van die mark van onafhanklik-funksionele bejaardes voldoen nie.
Die resultaat was mettertyd kamers sonder inwoners en ’n sakemodel wat nie meer kon volstaan nie. Teen 2023 was minder as 75 beddens beset, terwyl die tehuis vroeër gereeld meer as 100 inwoners gehuisves het.
Smit se aanstelling as bestuurder in 2023 was ’n keerpunt in die tehuis se geskiedenis.
Hy het ’n kombinasie van pastorale ervaring en privaatsektorinsig saamgebring.
Sy begrip van mense en sy vermoë om strukture en prosesse te begin omdraai, het gelei tot ’n energieke poging om die tehuis se toekoms weer haalbaar te maak.
Die vernuwing het begin met klein stappe soos daaglikse verfwerk en die herstel van kamers tussen opnames van inwoners, maar later het dit gegroei tot ’n omvattende opgraderingsprojek wat uiteindelik 22 nuwe kamers met en suite-badkamers sal insluit.
Smit beskryf die omkeerpunt so: “Ons het dadelik planne begin optrek om gedeeltes van die gebou op te gradeer sodat dit meer toepaslik vir die potensiële inwoners kon wees. Badkamers aan die kamers het na die logiese opgradering gelyk.”
Daarmee het die finansiële model ook verander. Deur die nuwe kamers teen ’n hoër tarief te verhuur, word die res van die tehuis gesubsidieer.
Die beginsel is eenvoudig: ’n selfonderhoudende tehuis kan weer andere wat minder wel-af is, bedien.
Wat hierdie nuwe benadering tegnies moontlik gemaak het, was samewerking tussen Monte Rosa Tehuis vir Bejaardes, Badisa en die Goeie Hoop Behuisingsmaatskappy, wat die geboue namens Badisa en die kerk besit.
Die pad vorentoe behels ook voortdurende interaksie met hierdie ondersteunende organisasies. Hierdie verhoudings het die afgelope paar jaar bewys dat samewerking tussen instellings die sukses van die tehuis se herlewing maak.
Die steun van weldoeners en instellings soos die Jannie Mouton Stigting, wat miljoene rand geskenk het vir die opknappingsprojek, was ’n sleutelkomponent.
Die betrokkenheid van die gemeenskap en vrywilligers sal in die komende jare ’n groter rol speel.
Die tehuis se bestuur het reeds begin om families, skole en plaaslike organisasies meer by die leefomgewing van die inwoners te betrek.
Smit sê: “Ons wil hê dat Monte Rosa deel van die gemeenskap moet wees, nie afgesonder daarvan nie. Vrywilligers bring nuwe energie, interaksie en betekenisvolle ervarings vir ons inwoners.”
Die volle verhaal van die tehuis se ontstaan en oorlewing toon hoe ’n historiese gebou soms afhanklik is van meer as net strukturele herstel.
So ‘n gebou se voortbestaan is afhanklik van die gesindheid van die mense wat daarvoor lief is, die gemeenskappe wat dit ondersteun en die visie van individue wat glo dat ’n geskiedkundige gebou steeds nuwe lewe kan en mag kry.
Smit som dit op: “Hierdie plek is ’n tuiste. Mense moet voel hulle hoort hier. Ons fokus nie net op mure en dakke nie; ons fokus op die mense wat hier woon.”